Volwasse matriek vorder nog ‘n stappie

In Maart 2011 het Umalusi, die agentskap verantwoordelik vir kwaliteit van matriek in Suid-Afrika, die Nasionale Senior Sertifikaat vir Volwassenes (NSSV) kwalifikasie voorgelê aan die minister van hoër onderwys. Die afgelope maand het hierdie proses nog ’n stap gevorder toe die Minister van Hoër Onderwys konsepregulasies vir die assesering van die NSSV uitgereik het vir publieke kommentaar.

Die Vereniging vir Tuisonderwys ondersteun die NSSV en het die Minister van Hoër Onderwys aangemoedig om die regulasies so gou moontlik te implementeer. Die brief van die Vereniging kan op die Tuisskolers.org webwerf gelees word.

Die ontwikkeling van hierdie kwalifikasie is in 2008 begin deur ’n vorige minister van onderwys, Naledi Pandor, om die miljoene jongmense wat nie meer in die skool is nie, ’n geleentheid te gee om ’n matriek te verwerf.

In die verlede kon hierdie jongmense inskryf by ’n afstandsonderrig kollege en binne ’n jaar ’n matriek verwerf. Met die afskaffing van die ou matriek is hierdie moontlikheid weggeneem en jongmense moet nou graad 10, 11 en 12 by ’n geregistreerde skool of kollege doen om ’n matriek sertifikaat te verwerf. So is met die invoering van die nuwe matriek die koste verbonde aan die verwerwing van ’n matriek deur iemand buite die skool van R1000 verhoog na ongeveer R30 000. So ’n verhoging sal selfs Eskom nie durf deurgee aan sy verbruikers nie.

Die verhoging van die prys van matriek maak dit baie moeilik vir jongmense om ’n matriek te verwerf en sonder ’n matriek word duisende deure vir hierdie mense toegemaak om verdere opleiding te ontvang of ’n werk te kry.

Die invoering van die NSSV sal dit heelwat makliker maak vir jongmense buite skole om ’n matriek te verwerf. Om hierdie kwalifikasie te verwerf kan enigiemand ouer as 18 jaar eenvoudig eksamens gaan skryf oor vier vakke en ’n punt van meer as 45% behaal in al die vakke. Daar is geen toelatings vereistes nie. Twee van die vakke is verpligtend (Taal en Wiskunde) en twee is keuse vakke (Menslike en sosiale studies, Natuurwetenskappe, Ekonomiese en bestuurswetenskappe of ’n addisionele taal). Kandidate kan al die vakke in een eksamen sitting of in verskillende sittings gaan skryf. Kandidate kan vakke weer skryf om ’n beter punt te verwerf. Die kwalifikasie moet binne 6 jaar verwerf word vanaf die datum van inskrywing.

Die NSSV kan aan miljoene werklose jongmense hoop en perspektief verleen om ’n kwalifikasie en ’n werk te kry. So ’n hoop en perspektief is vir seker beter vir Suid-Afrika as die beloftes wat Malema tans aan die werklose jongmense maak.

Dit kan ook tuisleerders bevry van die vereiste om Gr. 10, 11 en 12 by ’n kurrikulum verskaffer doen wat sy leerders inskryf by ’n eksamenraad. Tuisleerders kan eenvoudig dit doen waarin hulle belangstel en op die ouderdom van 18 die NSSV verwerf.

Prof. Jansen se frustasie

Ondergenoemde artikel is geskryf deur ‘n afgetrede lektor by ’n Suid-Afrikaanse universiteit, wat die lesers ’n insig gee hoe dinge in die praktyk op sommige universiteite gebeur. Die naam van die skrywer en die universiteit word op versoek van die skywer anoniem gehou.

Met volle simpatie het ek prof. Jonathan Jansen se artikel en kommentaar gelees m.b.t. “Die verneukery met uitslae” (DB 13-1-2012) en “Sou ek my kind hier skool toe stuur?” (By 14-1-2012).

Vergun my om by voorbaat te sê dat ek “wit” is, gepensionneerd en grys hare het. Meer as 20 jare was ek, na ‘n lang periode in die sake sektor, ‘n dosent by ‘n instelling van tersiêre onderwys. Het die “liberation before education” revolusie oorleef, weet hoe om korte mette te maak met traangas aanvalle van die polisie, hoe om ‘n oproerige studente skare te beheer terwyl ek klas gee vir plus minus 200 studente, (as dosent het ek verantwoordelik gevoel vir die veiligheid van studente wat in my klas was). Verder het ek aanhoudend toets- en eksamenvrae plus antwoord memoranda opgestel en was oorwegend teleurgesteld oor die studente se resultate. ‘n Slaagsyfer van 40% was geen uitsondering nie (ongeag of hulle 1ste., 2de., of finale jaars’ studente was) nie.

Gevolglik was ek meer as een keer op die “rooi tapyt”. Die studenteraad was dikwels in my kantoor met die eis (demand) om punte op te stoot. Ek het, na uitvoerige verduideliking, geweier. Die volgende stasie was die departementshoof wat geëis het dat ek al die skrifte weer nasien (daar was dikwels drie honderd of meer!) om te sien of ek genadiglik nie punte kon verbeter nie.

Ek kon of wou nie.

Die volgende stasie was die universitet’s owerheid (senaat of rektor). Selfde storie. Kan ek asb. die punte nie met 15 tot 20 % opstoot nie. Ek het geargumenteer waar die eksamen vrae vandaan kom. Bls. soveel van die voorgeskrewe boek of uitgereikte nota’s en wanneer dit in die klas behandel is. Ek het voet by stuk gehou. Boonop het ek bewys, met behulp van aanwesigheidsregisters, dat klasbywoning pateties was, om die minste te sê.

Dit het my akademiese loopbaan geen goed gedoen nie. Persoonlik het ek nie omgegee nie. Dit was my plig om die beste vir die studente te gee en ek het.

Ongelukkig was ek lid van die fakulteit se studente sake komitee. Alweer dieselfde storie. Tot my stomme verbasing was dit nie ‘n student se prestasie in die eksamen nie maar eerder ‘n student se potensiaal wat die deurslaggewende faktor sou wees.. Ek het simpatie gehad met die argument maar wie bepaal ‘n student se potensiaal? Is dit ‘n universiteit se taak?

Op sagmoedige wyse is ek verwys na ‘n ander departement se beleid om voor die eksamen die “moontlike eksamen vrae” bekend te maak. Meesal vier of vyf, waar van die studente verwag word om drie vrae of so te beantwoord. Die departement se slaagsyfer was uit die aard van die saak baie hoër as myne.

Vandag, skat ek, sit hulle met hul skootrekenaars in hul kantore, verdien ‘n uiters redelike salaris (geen probleem daarmee nie) en het hulle BMW’s met of sonder blou ligte. Waar dit egter by dienslewering en administrasie kom het ek my twyfels en kan waarskynlik baie verduidelik.

Dis die universiteit.

Nou kom ek by matriek.

Ek het aansoek gedoen vir ‘n pos as eksamen opsigter.
Toegegee, ek het ‘n verskuilde agenda gehad want ek wou weet wat die standaard van die matriek eksamen vrae was.
Met ‘n uitsondering hier en daar kan ek kategories verklaar dat dit lagwekkend was. Het prof. Jansen nie gesê dat studente (skuus, leerders) moes aansoek doen om te druip nie? Ek stem saam.

Daardie arme studente gaan universiteit toe waar die meeste nie hoort nie (potensiaal “of the not”). Hulle maak dit dan ook nie. Jammer vir die universiteit wat se subsidie van die owerheid ‘n samestelling is van die “intake, throughput and output” van studente, plus navorsing publikasies waarvoor die meeste (ek ingesluit) nie kans gesien het nie vanweë die enorme las van skrifte nasien, die opstel van toets- en eksamen vrae en antwoord memorandums, oneindige departement’s en fakulteit’s vergaderings, ens.

Sien, ek het volle simpatie en begrip vir prof. Jansen. Van my kant is daar hoegenaamd geen saak van “suur druiwe” nie. Ek het klasgee baie geniet. Om rou materiaal te kan omvorm tot “mense wat weet” was vir my ‘n voorreg.

Die kersie op die koek is dat ek, amper daagliks, mense in winkel sentrums, op konferensies, lughawens, e.d.m. ontmoet om my te groet met “Weet u nog/wel …?”. Ek weet nie meer nie maar dit gee my veel genoegdoening.

Bron : www.tuisskolers.org

Is tuisonderwys wettig?

Inligting oor die regstatus van tuisonderwys in Suid-Afrika wat deur die media en staatsamptenare verskaf word is dikwels verwarrend vir ouers. Die doel van hierdie artikel om die regsstatus van tuisonderwys in Suid-Afrika te verduidelik met verwysings na bronne sodat ouers die feite vir hulleself kan verifieer.

The regsituasie is dat internasionale reg, die Suid-Afrikaanse grondwet en die SA Skolewet voorsiening maak daarvoor dat kinders geregistreer kan word vir onderwys tuis. Die praktiese situasie is egter dat baie provinsiale owerhede nie die administratiewe prosesse in plek het om ’n kind te registreer vir tuisonderwys nie.

By die provinsiale owerhede wat wel die administratiewe prosesse in plek het, word die proses geadministreer deur amptenare met min begrip van tuisonderwys self en die regsaspekte van tuisonderwys. Hierdie amptenare vereis dikwels dat ouers moet voldoen aan allerhande vereistes wat nie deur die wet voorgeskryf word nie. As gevolg van hierdie situasie registreer meer as 90% van die ouers nie hulle kinders vir tuisonderwys nie, omdat dit hulle oortuiging is dat dit nie in hulle kinders se belang is om aan die onwettige vereistes te voldoen nie.

Die regsituasie

Die hoogste wet in Suid-Afrika is die grondwet. Die hoeksteen van die grondwet is die Handves van Regte wat in hoofstuk 2 van die grondwet beskryf word. Volgens art. 29(1) van die grondwet het almal in Suid-Afrika die reg op basiese onderwys, insluitende kinders. Dit beteken dat elkeen die reg het om te besluit of hulle basiese onderwys wil ontvang, waar hulle hierdie onderwys wil ontvang en wat die inhoud van hierdie onderwys moet wees.

Kinders is egter nie in staat om hierdie soort besluite vir hulleself te maak nie. Dit is hoekom art. 28(1) van die grondwet stipuleer dat kinders die reg het op ouerlike sorg. Dit beteken dat ouers namens hulle kinders moet besluit oor wat in hulle beste belang is. Hierdie ouerlike sorg sluit ook besluite oor onderwys in. Dit impliseer dat ouers moet besluit watter soort onderwys hulle kinders moet ontvang, skoolonderwys of tuisonderwys.

Wanneer die Handves van Regte geïnterpreteer word, vereis die grondwet in art. 39(1)(b) dat die howe ook internasionale reg moet oorweeg. Een stukkie internasionale reg wat toepaslik is op hierdie situasie is art. 26(3) van die Universele Verklaring van Menseregte, wat stel dat ouers die eerste reg het om die soort onderwys te kies wat hulle kinders moet ontvang. Dit bevestig dat die interpretasie van die grondwet, soos beskryf in die vorige paragraaf,  korrek is, en dat ouers dus die grondwetlike reg het om te kies dat hulle kinders hul onderwys tuis ontvang.

Dit impliseer dat slegs ouers die gesag het om te besluit of hulle kinders onderwys tuis of by die skool sal ontvang. Die grondwet stel nie dat staatsamptenare die gesag het om hierdie besluit te maak nie, en dat ouers aan staatsamptenare ’n verduideliking verskuldig is waarom hulle van die oortuiging is dat tuisonderwys is die beste belang van hulle kinders is nie, wanneer ouers kinders registreer vir tuisonderwys. Indien jy die reg het om iets te doen, dan hoef jy nie toestemming te vra om dit te doen nie. Wanneer dit nodig is om toestemming te vra, dan is dit nie ’n reg nie, maar ’n voorreg.

Die media vermeld soms dat ouers ’n aantal dinge moet voorlê wanneer hulle toestemming vra om hulle kinders tuisonderwys te gee. Ouers moet bv. hulle hoogste kwalifikasie vermeld. Nog die grondwet, nog die SA Skolewet skryf voor dat die reg om tuisonderwys vir hulle kinders te kies slegs gegun kan word aan ouers met sekere kwalifikasies. Daarom is daar geen regsgronde om van ouers te verwag om hulle hoogste kwalifikasies voor te le nie. Navorsing het ook herhaaldelik getoon dat die kwalifikasie van die ouers geen invloed het op die sukses van tuisonderwys nie. Daar is dus ook geen opvoedkundige gronde waarom ouers hulle kwalifikasies moet voorlê nie.

Artikels in die media vermeld ook soms dat ouers die kurrikulum moet voorlê wat hulle beplan om te volg. Dit impliseer dat die departement van onderwys die inhoud van die tuisonderwys moet goedkeur, alvorens hulle toestemming kan gee dat ouers tuisonderwys vir hulle kinders kies. Behalwe die feit dat hierdie vereiste nie afgelei kan word van die grondwet of die SA Skolewet nie, het regter Cynthia Pretorius in ’n onlangse hofuitspraak in die Pretoria Hooggeregshof op 25 Maart 2011 bevestig dat die staat se kurrikulum nie bindend is vir onafhanklike skole en ouers wat tuisonderwys gee nie.

Die praktiese situasie

Die SA Skolewet vereis dat ouers hulle kinders moet registreer vir tuisonderwys. Hierdie registrasie moet gedoen word by die provinsiale onderwysdepartement. In die praktyk het meeste provinsiale onderwys departemente egter nie administratiewe vermoëns om kinders te registreer vir tuisonderwys nie.

Sommige van die groter provinsies het beperkte vermoëns om kinders te registreer vir tuisonderwys. Die amptenare wat egter in die hierdie departemente werk het egter ’n baie beperkte begrip van tuisonderwys. Terwyl ouers wat tuisonderwys gee baie intiem betrokke is by hulle kinders se onderwys en presies weet wat hulle kinders kan doen en wat nie, vereis amptenare van die onderwysdepartement van ouers om rekords se hou van bywoning, vordering en assessering. Watter waarde het kabinette vol rekords vir die onderwys aan die kinders? Sodat ma oor 3 jaar kan onthou dat die kinders tuis was op 25 April 2012?

Amptenare het ook ’n beperkte begrip van die wet wat hulle veronderstel is om toe te pas. Alhoewel die grondwet, internasionale reg en hofuitsprake bevestig dat slegs ouers die gesag het om besluite te neem oor die soort onderwys en die inhoud van die onderwys wat hulle kinders gaan ontvang, verwag provinsiale amptenare nog steeds dat ouers kurrikulums moet voorlê vir toestemming. Amptenare tree op asof tuisonderwys ’n voorreg is en nie ’n reg nie.

Op publieke vergadering verwys die amptenare dikwels na “ons” kinders, asof die kinders ook aan hulle behoort, en asof hulle ook gesag het om besluite namens hierdie kinders te neem. Die stelling word dan dikwels gemaak dat dit ‘n hele dorp (village) nodig is om ’n kind op te voed, en die Dept. van Onderwys beskou homself as ’n belangrike deel van hierdie dorp. Die geskiedenis en navorsing bewys egter dat ’n kind nie ’n dorp nodig het om hom op te voed nie, maar slegs toegewyde ouers.

Wat ouers doen

Ouers wat hulle kinders wil registreer vir tuisonderwys by die Department van Onderwys loop die risiko dat daar van hulle verwag sal word om aan allerhande vereistes te voldoen wat nie deur die wet voorgeskryf word nie. Dit is oor hierdie rede dat meer as 90% van ouers hulle kinders nie registreer nie. Tot dusver is nie n enkele tuisskoolouer suksesvol vervolg omdat hulle nie hulle kinders geregistreer het nie.

Ouers wat oorweeg of hulle moet registreer of nie moet die dokument hieroor van die Pestalozzi Trust noukeurig bestudeer. Kliek hier om die dokument oop te maak.

Politici bly belê in mislukte onderwysstelsel

Daar is konsensus dat die standaard van onderwys in Suid-Afrika veel te wense oorlaat, soos onlangs bevestig deur prof. Jonathen Jansen. Hierdie swak prestasie kan nie toegeskryf word aan ’n tekort aan geld nie. As ’n persentasie van Bruto Binnelandse Produk spandeer Suid-Afrika 5.4% aan onderwys, terwyl die gemiddeld van die wêreld 4.7% is. Al hierdie geld wat aan onderwys gespandeer word kom uit die belastingbetaler en die ouers se sak. Ouers wat hulle kinders na ’n redelike goeie staatskool of ’n privaat skool wil stuur moet groot bedrae opdok. Volgens Discovery Invest gaan ouers van ’n kind wat vanjaar met gr. 1 in ’n private skool begin het, l na raming meer as R1 miljoen nodig hê vir hom of haar om laer- en hoërskool en tersiêre onderrig te voltooi.

Al die groot politieke partye erken dat onderwys in Suid-Afrika in ’n krisis is. Almal van hulle stel voor om nog meer geld te bele in die mislukte onderwysstelsel, en nie een stel voor om die stelsel te vervang met iets wat ‘n rekord van sukses het nie.

In die begrotingsrede van 2011 het Me. Angie Motshekga, Minister van Basiese onderwys uiteengesit wat sy gaan doen om onderwys te verbeter:

  • Die oorhoofse begroting van die 2011/12 finansiële jaar het toegeneem van R6.369 miljard tot R13.868 miljard. Dit is ’n verhoging van 85%.
  • Die matriekslaagsyfer gaan verhoog word.
  • ’n Nuwe Nasionale Kurrikulum en Assesseringsbeleid (CAPS) gaan ingevoer word vanaf 2011.
  • Dit word beplan om ’n hoëvlak beplannings en oorsig eenheid te stig wat gaan fokus op die aflewering van die kurrikulum.
  • Die aankope van handboeke gaan gesentraliseer word.

Anton Aberts van die VFPlus stel die volgende oplossing voor : “In die eerste plek moet onderwys gedepolitiseer word. Onderwys magte moet afwentel na gemeenskapsvlak, terselfdertyd moet die regering sy rol behou as hulpbron. Heelwat nuwe skole moet gebou word op grond van demografiese gegewens wat behoeftes aandui binne kultuur – en taal verband. Onderwysers moet ook beter vergoed word, terwyl die opleidingsvlak van onderwysers verhoog moet word. Onderwysers wat nie die hoë standaard by die werksplek nastreef nie, moet gedissiplineer word.”

Die Demokratiese Alliansie stel voor dat daar meer skole gebou moet word, dat skole en onderwysers wat swak presteer meer gemonitor moet word en die nasionale assessering van leerlinge in graad 3,6 en 9.

Die oplossings van die verskillende partye verskil wanneer dit kom by die besonderhede, maar stem grootliks ooreen wat betref die breë trekke. Die oplossings van die politici oor die algemeen kan soos volg opgesom word:

  • Die staatskoolmodel moet behou word.
  • Daar moet nog meer geld op hierdie staatskoolmodel gespandeer word.
  • Die toesig en beheer oor skole en onderwysers moet vermeerder word.

Iets fundamenteel is dus fout in die onderwys. Ouers en belastingbetalers moet al hoe meer betaal vir publieke skole, maar die kwaliteit van die onderwys wat hulle kry raak al hoe swakker. Hierdie tendens is al vir dekades die geval, nie net in Suid-Afrika nie, maar oraloor die wêreld. Tog is politici eensgesind daaroor dat die staatskoolmodel behou moet word en daar nog meer geld aan die staatskoolmodel gespandeer moet word. Die oplossing van Suid-Afrikaanse politici is dus om meer geld te spandeer aan ’n onderwysmodel met ’n rekord van mislukking.

Vir dekades lank spandeer die regering elke jaar meer aan onderwys en elke jaar gaan die onderwys verder agteruit. Ouers sit met kinders wat elke jaar ouer word en kan nie bekostig om te hoop dat nog verdere spandering uiteindelik die probleme gaan oplos nie. Daarom is ouers toenemend besig om hulle kinders te onttrek uit die publieke skole en te kies vir tuisonderwys en privaatskole. Hierdie vorm van onderwys het ’n bewese rekord van sukses.

Alhoewel privaatskole oorwegend kwaliteit onderwys gee, is hulle dikwels te duur en te vêr vir baie ouers. Dit is om hierdie redes wat tuisonderwys toenemend gewild word. Tuisonderwys soos die wet dit omskryf is onderwys wat die kinders in hulle eie huis ontvang. Baie ouers kies vir hierdie vorm van onderwys aangesien dit ‘n bewese rekord van sukses het en ook omdat dit gesond is vir gesinsverhoudings en ook aan die gesin baie vryheid gee.

Vir sommige ouers is dit egter moeilik om hulle eie kinders tuis onderwys te gee en hierdie ouers kies vir (meestal) klein leersentrums wat bedryf word deur ’n klein groepie entrepreneurs, ouers, oud-onderwysers of vrywilligers. Tuisskole, mikroskole, huisskole, hulpsentrums, ongeregistreerde privaatskole, lae-tariefskole ens. ens. is almal verskillende terme wat gebruik word vir hierdie sterk groeiende nuwe verskynsel in die Suid-Afrikaanse onderwysomgewing. Hierdie leersentrums werk dikwels op so ’n wyse dat dit beskryf kan word as tuisonderwys in groepsverband. Hierdie verskynsel in onlangs erkenning gegee in ‘n navorsingsverslag van die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming. Hierdie verslag beskryf hierdie verskynsel as verskuilde bates van Suid-Afrika.

Dit is jammer dat politici geen erkenning gee aan die vorme van onderwys wat sterk groei en ’n bewese rekord van sukses het nie. Die politici kies ongelukkig om nog meer van die belastingbetaler se geld te belê in ’n duur onderwysmodel met ’n rekord van mislukking. Dit is daarom belangrik dat tuisskolers elke moontlike forum moet gebruik om die dwaasheid van die keuses van die politici uit te wys en beter alternatiewe voor te stel. Ouers moet vra waarom hulle belasting moet betaal vir nog belegging in ’n onderwysmodel met ’n rekord van mislukking, terwyl die onderwysmodel met ’n rekord van sukses geen ondersteuning kry nie.